Barbican Estate

Die Barbican Estate-toringblokke
Een van die woonstelkomplekse in die Barbican Estate
Barbican Estate, wat in die verlede as "betonoerwoud" afgemaak is, het lankal die proses van sosiale veredeling of gentrifikasie ondergaan – nie net vanweë sy ligging in die middestad van Londen nie. Eenkamerwoonstelle verkoop vir meer as £400 000

Barbican Estate is 'n woonstelkompleks vir sowat 6 000 mense wat tussen 1965 en 1976 in die City of London, die historiese middestad van Londen, ontstaan het. Die buurt, wat tans veral finansiële instellings huisves, is gedurende die Tweede Wêreldoorlog swaar deur Duitse bomaanvalle getref.

Die verwesenliking van die Barbican Estate-projek, wat volgens ontwerpe van die argitekte Chamberlin, Powell en Bon ontstaan het, was deel van 'n utopiese visie vir die heropbou van die Barbican-buurt ná die oorlog. Saam met woonstelgeboue het 'n aantal kulturele en opvoedkundige instellings in of naby die buurt ontstaan, waaronder die Barbican Arts Centre, die Londense Museum (Museum of London), die Guildhall-skool vir Musiek en Drama, die Barbican-biblioteek, die City of London School for Girls en 'n YMCA-gebou wat intussen gesluit is, wat saam die Barbican Complex vorm. Die kompleks, een van die bekendste voorbeelde van Britse brutalistiese boukuns in Londen, word bestuur deur die Barbican Estate Office, 'n departement van die City of London Corporation.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search